Goedkoop items soos kratte en emmers moedig kinders aan om meer aktief en kreatief te wees as duur speeltoerusting, het navorsers bevind. Die bevindinge is die resultaat van 'n langtermynstudie deur navorsers van die RMIT Universiteit in Melbourne, Australië, na die spelverskille van laerskoolkinders met toegang tot verskillende speelgronde.
Die bekendstelling van eenvoudige, alledaagse voorwerpe tydens rustyd en middagete kan sittende gedrag met die helfte verminder, kreatiwiteit verbeter en sosiale en probleemoplossingsvaardighede bevorder, toon die navorsing.
Onlangse studieresultate is in die internasionale joernaal BMC Public He alth gepubliseer.
Die twee jaar lange navorsingsprojek, gelei deur dr Brendon Hyndman van die Skool vir Mediese Wetenskappe, het bevind tradisionele skoolspeelgronde kan verbeeldingryke en energieke spel onderdruk.
"Konvensionele speelgronde word deur volwassenes ontwerp - hulle neem nie eintlik in ag hoe die kinders wil speel nie," het dr Hyndman gesê "In 'n tyd wanneer kindervetsug groei en speelgronde krimp, het ons 'n kreatiewe benadering om fisieke aktiwiteit onder skoolkinders te stimuleer."
Die RMIT-studie het 120 studente, tussen vyf en 12 jaar oud, van die nuutgeboude Emmaus Katolieke Primêre Skool in Ballarat, 'n streekdorp in die Australiese deelstaat Victoria, betrek.
Hulle resultate is vergelyk met 'n ander skool in die omgewing wat tradisionele speeltoerusting soos aapkroeë en glybane gehad het. Emmers, pype, oefenmatjies, hooibale en swembadnoedels is in die speelareas by Emmaus geplaas en navorsers het die studente se gedrag aangeteken.
Sittende gedrag, gedefinieer as sit of staan rondom die speelgrond, het tydens die studie van 61,5 persent van kinders tot 30,5 persent gedaal. Studente wat met alledaagse huishoudelike voorwerpe gespeel het, het 13 meer treë per minuut geneem en meer intensief en kragtig gespeel in vergelyking met dié wat die tradisionele speelgrond gebruik.
"Hierdie resultate kan toegepas word op enige plek waar kinders speel en die debat oor die beste manier om ons kinders gesond te hou verskuif."